Maandag 07 Maart 2022

Die storie van die Hoggamajojos.....

 Ek was van kleintyd af 'n dromertjie. Alleenkind wat haar verbeel het klein mensies bly in haar slaapkamermuur. Stories van kamma-geselsies saans as kindertjies in die bed moet wees terwyl die grootmense nog wakker is. Die mensies wat wegkruip in die Jakarandaboom se geheime holtes en ure saam met jou kuier tussen blomkoppietjies en bordblaartjies.



Maklik veertig jaar later trek ons Hogsback toe. Die mooiste omgewing met 'n oorvloed van plantegroei en dierelewe wat enige kunstenaar se kreatiwiteit sal aanwakker.

 Ek hou skool vir 'n paar bergkindertjies en die Hoggamajôjôs word in my hart gebore. Wat meer kan 'n kinderverbeelding lewendig en bly maak?

Vriende en familie geniet die nuwe idee. Die karaktertjies kry stories, blyplek in gastehuise en selfs oorsee!

Hulle kry elk 'n unieke nommer en word "aangeneem" deur grootmense en kinders. Ons wil nie hulle hartjies seermaak deur hulle bloot te verkoop nie! 

Die Hoggies is baie skaam maar vind sterk aanklank by kindertjies en kreatiewe grootmense.

Hulle kruip tussen die welige plantegroei weg en koekeloer om die hoekies om te sien wat op die dorpie gebeur. Snags besoek hulle die mense se huise en hou hulle fyn dop. Uit pure stoutigheid steek hulle dan die mense se sleutels of selfoon weg. Hulle boots die mense se kleredrag en gewoontetjies na en giggel saam oor alles in hulle wegsteek blyplek in die bos.

Hulle lyfies verander van vorm maar die grootste vreugde bly....die deel van die jôjô-blywees.

Soms wonder ek of die storie van my Hoggamajôjôs nie liewer maar moet doodloop nie. Veral toe ek van die berg af verhuis terug na Port Elizabeth toe nie.

Maar dis vir my so lekker om hulle te laat lewe. Die onsekerheid en idees groei maandelank in tekenwerk vir plakkers (stickers), planne vir nuwe laplyfies, sketse en stories. wil die lappoppies meer besonders maak. Die verwyder van die idee van massaproduksie en sommer net doodgewoon wees. Die nuwe idees begin lewe kry in my gedagtes en kort voor lank stik ek die eerste van die nuutste Hoggies, stop, werk dit aanmekaar en begin met groot plesier die lyfie verf. Die finale afronding met wolhaartjies laat die poppies lewe. Nou is my hart tevrede!

So hier is hulle nou, my Hoggamajôjôs. Hulle voorkoms het verander, maar die stories bly dieselfde.

En nuwe stories sal nog gebore word. Dis ure se liefdevolle werk wat hulle vir jou bring. Ek hoop jy sal elke klein deeltjie van die liefde in elkeen raaksien en sommer in jou hart voel. 

Want dis eintlik waaroor dit gaan, ek wil net vir jou 'n stukkie liefde en jôjô-vreugde stuur in elke lyfie. Vir groot en klein!

Ek is Santie en ek verf drome....en dis wat ek met jou wil deel!


#santieameryfineartist #hoggamajojos #jojovreugde #jojojoy #artdolls #hogsback #unique #handmade



1 opmerking:

  1. Só ken ek jou Santie. Vol verbeelding van kleinsaf en later met allerhande kabouterstories vir my kinders....

    AntwoordVee uit

Slaaptyd...

As jy 'n bietjie slaperig voel vandag, is dit alles reg! Net solank jou nessie naby is! Hierdie slaapkous is beskikbaar teen...